WILKO, OUPA SE KIND.

En so het hierdie sonskyn engel kind in ons lewens gekom …met groot moeite en stryd. So asof die duistere magte jou  koms wou keer, maar gelukkig het jou Hemelse Vader ingegryp en jou veilig en ongeskend vir ons kom gee. Jou koms het vir ons almal groot lewenslesse kom leer. Ek sal graag net ‘n paar wil noem:

  • Jou ouers, Wimpers en Carli is die wonderlikste ouers. Wimpie ..jou pa, is die pa wat ek graag vir my kinders sou wou wees. Jou ma Carli is net “amazing”. Haar rustigheid en liefdevolle versorging ken geen perke. Dankie dat julle vir Wilco so onselfsugtig met ons as uitgebreide familie deel.
  • Ook die Here se genade en seëninge is so duidelik oor jou elke dag. Tot op hede het geen siekte of negatiewe gebeure met jou gebeur nie. So onwerklik. Ja, die Here se hand van beskerming is soos ‘n koekon om jou gevou. Alle eer en dank aan hom. Hy het jou by die naam geroep en jy is syne.
  • Die lekkerste hou ek vir laaste : die “joy” wat uit jou binneste vloei is buite my belewensveld. Nog nooit so ‘n gelukkige, laggende bondeltjie energie gesien nie. Jy lag vir die dokter wat jou inspuit, jy lag as jou pa binnegevegte het met jou , jy lag as jy vaak is, jy lag met badtyd. Jy lag net. As ek dan in jou ogies kyk, dan sien ek die lag en vriendelikheid kom van diep binne….Godelike vreugde. So het jy ons kom leer dat ons vreugde nie in ons omstandighede moet wees nie, maar vreugde van binne wat van die Here kom. Ja jy het kom bevestig wat die Woord sê: vind jou vreugde in die Here.

Vandag met jou inseëning begin jou aardse pad met jou Hemelse Vader. Hy sal jou ingang en jou uitgang bewaar. Nie ‘n haartjie sal van jou kop val sonder Sy medewete nie.

Ek wil vir jou ‘n paar gedagtes gee wat uit die Skrif kom en op jou toegepas vir die lewnespad:

Moenie jou gedurig loop en bekommer oor die dag van môre nie. Jy kan tog niks aan jou omstandighede doen deur te kommer. Moenie soos die mense kommer of jy genoeg gaan hê om van te lewe nie. Die lewe gaan tog oor meer as kos en klere. Kyk om jou rond en sien hoe jou Hemelse Vader vir die voëltjies daar buite sorg. Hy sorg dat hulle elke dag kos het. Hoeveel te meer sal jou hemelse Pappa nie vir jou sorg nie!!  Moenie elke oggend tob oor wat jy sal aantrek nie, kyk hoe mooi is die blommetjies daar buite. As God dan soveel aandag aan al die veldblommetjies gee wat ons meestal nie eers raak sien nie, hoeveel te meer sal jou hemelse Pappa nie vir jou aantrek nie…nie eers koning Salomo was so mooi aangetrek soos die blommetjies nie.

Stel God se koningkryk eerste. Doen alles wat vir God belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir jou genoeg gee. En los maar môre se probleme vir môre. Leef liewer elke dag voluit vir God!!

Hamba ghaslê…mooi loop oupa se engelkind.

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Die nag van die kragopwekkers.

Ons is bevoorreg om in die stilste baai aan die Suid Kaapse kus te bly. ‘n Plekkie waar die Here Sy rus, Sy stilte en Sy vrede agter gelaat het.

As kind het ek altyd gewens ek kan by die see bly. Dit het so lekker, rustig en opwindend geklink as die mense oor daardie see vakansies gepraat het. Ek moet ook maar noem dat ek eers in my tienerjare  was voordat ek die see vir die eerste keer gesien het. Daardie tyd was daar nog nie televisie nie, slegs flieks waar die see so bekoorlik vertoon is. Onthou jy nog die Peter Stuyvensant sigaret advertensies met die seiljagte, bikini meisies en jong testosteroon-gepompte spiervarkies wat so baljaar in die branders? Dit was mos die lewe !!

Wel, dit was my idee van die see en om daar te bly  en dit was ‘n idiliese versugting in my kinder gemoed.

My eerste kennismaking met die see was vakansies op Port St Johns saam met ds Solly en die kinderhuis kinders. Ons wat nie kon huistoe gaan nie, is na Tweede strand in Porries. Heerlike swem dae en staproetes.

Ons het in so groot sirkus-tipe tent geslaap. Seker so 50 of meer kinders in die tent. Van klein tot groot. Die ouer kinders was bevoorreg om saans tot laat buite by die vuur te sit en gesels. Ons bed-natmakertjies moes maar vroeg inkruip. Laat nag as dit begin reen en die winde speel woer-woer met die tentklappe, dan bekruip die vrees jou. Wat as die tent omval? Dan word vinnige kinder-nood-gebedjies opgestuur. Beloftes van ons sal nooit weer stout wees nie word dan in sarsies  opgestuur. Wonder hoeveel het ooit die hemel bereik!

Terug by die hede: Stilbaai se strande….. Wat ‘n belewenis! As ons saans so af stap na Preekstoel se kant toe strandlangs en die see soos ‘n gladde spieel voor jou rus  en die vroee aandwindjie van die see se kant af gee daardie vars sout reuk in die neusgate,  dan voel jy soos God se oogappel. Ja, jy voel bederf. Jy voel spesiaal. Met die omdraai slag loop ons dan in die ondergaande son se strale in. Die rooi skynsel op die horison sprei oor na die groot dam water en die rooi skynsel weerkaats vanuit die water. Geen skilder kan die vorm, kleure en tekstuur beter ontwerp nie.

Dan bid ek saggies en bedank ons Hemelse Vader dat Hy my kinderhart gehoor het en my geplaas het op die mooiste see-plekkie denkbaar. ‘n Geskenk uit God se vaderhart.

Nou waar kom die kragopwekkers nou in die prentjie? Wel ,dit is ‘n lang zuma-verhaal wat 20 jaar gelede begin het en via  die Guptas en regstellende aksie ons gebring het by beurtkrag.

In die vroee sestiger jare was groot pop orkeste die inding en  groot popfeeste is gehou. Wie onthou Woodstock waar oor die honderd duisende jong “free spirit freaks” gedrink, gedans, ge-LSD en ge-dagga het vir  weke aaneen terwyl die “battle of the bands” aan die gang was….en al wat kerk is gebid het vir die jongmense se sedes.

Wel, vanaand het ons eie Woodstock weer begin…die liewe kragopwekkers!  Aan ons noordwes grens tree die Pretoruis-band op. Klink soos ‘n 3 slag Lister masjien met ‘n oorwegende bas toon, stadige spoed met ‘n harde geluid. Aan ons suide kant is die Marais-band…vinnige ritme op ‘n baie skril toonhoogte. Dit skeur deur murg en been. Net oorkant die straat is die Veldsman-band… ‘n regte oempie boere orkes. Sommer net ‘n geraas met ‘n gedoef doef. Gelukkig is die spanjoele in Nieu Seeland en hulle orkes is tydelik uit aksie. As jy buite gaan stap klink die kakafonie van geraas soos die oordeelsdag se musiek.

Wat het in die mense gevaar?

Wat het van ons Baai van stilte geword ?

As die krag afgaan, steek die kerse op of ‘n kampeer lampie en sit rustig en gesels oor gister se heimwee, vandag se gebeure of  oor more se verwagtinge. Geniet die stilte van die ” Baai van stilte”. Wat neuk die mense met die kragopwekkers! Hier kry jy die ideale geleentheid om vrede met jouself te maak en te ontsnap van die daaglikse geroesmoes, met ‘n vuurtjie wat brand en wag vir die koffiewater om te kook.

Ja, die “battle of the bands”…. Overgesegt synde: “die geveg van die kragopwekkers” in volle swang. Die inval van die kragopwek-brigade. Staan opsy. Maak pad vir die nuwe juppie gier…die kragopwek- perdekrag-kilowatt broederskap.

Vader, behoede ons asseblief…..en gee ons weer  stilte daar buite sodat daar weer stilte in ons binneste kan kom.

 

 

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

My brief aan jou.

Daar is soveel dinge wat ek nog met jou wou gesels….

Daar is soveel  dinge wat ek saam met jou wou doen….

Maar daar is soveel meer dinge wat gesels is  en gedoen is ,

wat ek ongedaan sou wou maak.

Dit is my brief aan jou.

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Spesiale vriende !!

In die spreekkamer se ontvangs hang daar ‘n spotprentjie  wat ‘n besoeker eendag geskets het terwyl hy gewag het vir sy afspraak. Die opskrif van die skets lees : Wees lief vir rokers want hulle tyd is min!! Ook nie heeltemal die waarheid nie want ek weet van baie nie-rokers wat gouer die tydelike vir die ewige verruil het. Maar dat dit ‘n spesiale liefde is, is ook waar want kyk die rokers is  spesiale, eiesoortige entiteite!!

Vanoggend het ek vroeg opgestaan. Dit is Sondag , alles en almal  slaap nog. Ja, die dagbreek slaap ook nog want die mis is dik op die see. Geen teken van die warm vriendelike strale van die son nie. Kyk, as die mis lig gaan dit weer ‘n kraaie gaap dag wees. Maar terwyl dit nog so koel en mistig is en voordat die muggies my lewe kom verpes, trek ek my stap uitrusting aan en vat die pad. Al langs die wandelpad langs die see, verby Drie Pikkewyne en in Strandstraat af. Die lug is so vars en koel. Die fyn misreen van die digte mis slaan strelend teen my gesig. Langs my drafstap Lady. Sy begin ook nou al lank in die tand raak en die tong hang al uit van moegheid. Sy het ook nie meer die krag om agter die dasse aan te hardloop nie…..en die dasse weet dit!! Hulle staan so op kort afstand en koggel haar, maar ou Lady se fut is uit.

Bo in Hoofweg vat ek die pad sandgat toe. Van die hoogte af kyk ek op die see uit waar die gesigseinder wegkruip agter die misbank. Ek asem sommer ‘n ekstra liter vars seelug in. Geen besoedeling. Vars. Koel. Dit laat my dink aan jare gelede toe ons oppad Kruger Nasionale Park toe was. ( Snaaks die “goverment” het nog nie die naam verander nie!) Daar by Standerton was ek geskok om so na die noordooste te kyk en die donker wolke massa te sien. Geskok, want dit is nie reen nie, maar suurreen van Sasol se Secunda aanleg…deesdae noem ons dit besoedeling. Ek asem sommer nog ‘n stewige trek vars, koel seelug in. Kan ek so gelukkig wees om hier te bly, hier te loop en besoedelingsvrye  seelug te kan inasem !!

Net toe ek die afdraende pad neem by die sandgat ,sien ek ‘n wit bakkie langs die sandgat staan. Langsaan staan ‘n jongman. Dadelik val twee dinge my op: eerstens , staan jongmense nog vroeg op op ‘n sabbatsdag?  Dit is mos laat slaaptyd en inhaal waarmee hy agterstallig is. Tweedens, hy staan met ‘n sigaret tussen sy vingers en rook dat die dampe so staan. Pragtige advertensie vir British American Tabacco! Ek asem die vars seelug in en raak liriese daar oor en hier staan ‘n jongman en kies om die besoedelde gemors in te asem. Toe besef ek weereens dat rokers spesiale mense is…jy moet hulle maar  net lief moet he.

Skielik begin my gedagtes ver paaie stap en ek onthou so paar rokers wat spesiaal was.En ja, ek was lief vir hulle!

Baie jare gelede in die vorige eeu, het ek op Caledon gewerk. Die groot gebeurtenis was as die WP en die Bulle mekaar op Nuweland gepak het! So half een het ons die apteek gesluit en is die pad Kaap toe aangepak. Die apteker vir wie ek gewerk het, het middellyn hoofpawiljoen kaartjies gehad. Dan was ek bevoorreg om saam met die” lanies “rugby te gaan kyk…in styl! Vroeg op Nuweland aangekom, ons reggemaak in ons VIP sitplekke en wag vir die voorwedstryde om klaar te maak. Ek word saam genooi na die lede-restaurant. Dit was voor die dae van losies. Die ongeskrewe reel was : pastei met mostertsous. Die mostert was daar om die koue nat veertien dae geelperske reen te neutraliseer. Dit maak jou warm van binne! Eintlik hou ek van sterk kerrie en sterk speserye. Ek gooi mildelik mostert oor my pastei, net vir my weldoener om my te waarsku: “Stadig jong, die goed is warm”  Soos rokers maar doen, hoor ek maar luister nie. Met my eerste hap slaan my asem weg en vir die volgende tien minute is ek woordloos, spraakloos en gestroop van my waardigheid. Die mostert was sterk!. MAAR om op Nuweland te kom was die eintlike storie. Ons het saam met Koos Purgaas gery. Twee voor en drie agter. Dit reen so fyn en is yskoud buite, maar Nuweland toe gaan ons. So met die opgewonde gepratery steek Koos sy sigaret aan. Vensters is toe en ons ander vier nie-rokers het nie die moed ons vir Koos die leviete voor te lees nie. So selfsugtig! Ek vervloek so in die stilligheid vir British American Tabacco. In die gehoes en geproes het ons maar ewe waardig daar gesit en mede passiewe rokers geword. Ja, rokers is spesiaal. Jy moet hulle net lief he.

Die Ingelse tannie het naby die apostole kerk gebly. Haar longe was opgerook. Soos in op. As ek ‘n telefoon oproep kry en ek hoor die gehyg aan die anderkant, dan weet ek die tannie benodig my. Haar asem is te kort om te praat. By haar huis aangekom, het ek myself ingelaat want die asem was te kort om voordeur toe te loop. Die asem het saam met die rook dampe verdwyn. Dan tref ek haar aan in die sitkamer in haar “rocking chair”. Blou lippe, punt van die neus en oorlobbe blou-pers. Nie asem oor om my te groet nie. Asem weg. Asem opgerook. Dan gee ek maar ‘n inspuiting vir wat dit werd is. MAAR langs die tannie staan die asbak met ‘n brandende sigaret. Weereens ‘n spesiale roker : nie asem om te praat nie, maar daar word gerook. Wat ‘n advertensie vir British American Tabacco !  Rokers…jy moet hulle maar net lief he.

Die oom was ‘n generaal in die weermag. Kwaai. Streng. Presies. Een van daardie geen “nonsense” omies. Hy was ‘n generaal van ‘n groot weermag eenheid, maar ook generaal in sy huis. Net soos sy troepe, was sy vroulief ook maar net ‘n troep. Daar slaan die lelike woord “angina” ook toe en die oom eindig met ‘n hartoperasie. Sy spesialis beveel  die eks- generaal om op te hou rook! Ja, dit is slegs ‘n spesialis wat vir die eks-generaal opdragte kan gee. Soos ‘n goeie militaris is hy tot die letter gehoorsaam en gedissiplineerd en hou by verstek op rook. Eendag fluister die tannie baie geheimsinnig in my oor: “Dokter praat met die oom. Ek dink hy rook weer.  Saans gaan hy na buite en later as hy inkom, ruik ek rook tussen al die peppermente en mondspoel deur. Dan wil hy my nie soen nie.” Met die oom se volgende besoek vra ek hom so paar verkennende  “onskuldige” vrae  :  Hoe gaan dit met die stappery? Hoe gaan dit met die cholesterol-vrye dieet?  So terloops oor die rokery. ” Nee wat dokter, daai goeters het ek laat staan. Ek laat nie toe dat ‘n sigaret my baas sal wees nie.”  Dat die generaal so blatant lieg…nes sy troepe wat skuldig was aan awoll. Wat ‘n advertensie vir British American Tabacco!! Ja, of jy nou ‘n generaal is of pietpompies is, rokers is spesiale mense. Jy moet hulle net lief he.

Dankie tog dat die nikotien gogga my nooit gebyt het nie. Ek is totentaal verslaaf aan vars, verfrissende, suiwer skoon seelug!!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Ouma se rystoel

Dit is al tasbare erfstuk wat ek van haar het. Nie ge-erf nie, sommer net gevat.
En dit is baie kosbaar vir my.
Al tasbare herinnering aan haar.
Net die ou rystoel.
My erfstuk.

Vroeg saans het sy haar op die rystoel ingewurm….so 1 meter van die televisie af. Die suikersiekte gogga het haar ogies opgevreet sodat net so 3% sig oorgebly het. Dan moes sy ook eers haar koppie skuins draai omdat sy net op die buitekante van haar retinas nog sig gehad het. Soms was ek bang dat sy haar neus teen die televisie skerm sou stamp, so naby moes sy sit.
Ja, vasgevang voor die TV om al die vroegaand sepies te kon volg.

Sy was baie gelukkig in Huis Stilbaai, maar saans as die skemer begin daal en die nag voeltjies mekaar begin roep, het al die vriendinne na hulle kamers verkas om hulle eensaamheid te gaan opsoek.
Alleen in hulle kamers.
Geen geselsskap, net die televisies.

Saans na werk het ek soms vir my die lekkerste vis en skyfies gekoop en dan aan haar gedink. Dan koop ek sommer ‘n ekstra porsie en neem dit vir haar.
Saggies maak ek dan die voordeur oop en stap na haar televisie hoekie. Ek sien in my geestes oog hoe sy pennetjies regop op die rystoel voor die geselsskap kassie sit om te kyk en luister na haar televisie kamerade se doen en late.

“Waar is ou blinde Mollie dan vanaand? Kyk wat het ek vir haar!!”
Dan draai sy so skuins om na my en haar gelaat straal van blydskap…nie oor die vis en skyfies nie, maar die blydskap om haar skoonseun te sien.

” Ek het vir vir ouma vis gebring! Het blinde Mollie al geeet?”

“Haai my kind. Ek het al maar die vissie gaan ek nie toelaat om baard te kry nie. Kom ons gaan sit daarvoor en eet saam.”

“Ag nee wat ma, kyk jou storie. Ek het sommer hierlangs gekom en ma kom verras”

Vandag besef ek : Sy wou net gesels. Sy het ‘n behoefte gehad om hartsake te gesels. Sy het die eensaamheid saans verguis, veral na oupa se dood. En al moet sy daardie vissie inwurg, maar saam wil sy eet.

Waar het al die heimwee begin….Dit het begin met my tuismaak op die rystoel. Ouma se stoel. Ouma se “comfort zone” stoel.

Vanaand verlang ek na haar. Mis haar.
Sy was spesiaal.
So ook haar rystoel!!

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

“en Ek sal julle rus gee” -Mat 11:28

Dit was my dagstukkie vanoggend en dit het my opnuut laat besef : Let go, let God !!

Die jaar 2017 was die een storm op die ander en 2018 het tot dusver voortgesnel op dieselfde deuntjie met die een storm na die ander. Storms wat verwoes en puin agterlaat, asook pyn, Geen wolke en sonder enige reen….sonder die nodige water om weer groei te bewerk. So het ek maar op my eie manier die storms weerstaan, totdat ek weer vanoggend opnuut die uitnodiging kry : “Kom na My toe en Ek sal julle rus gee.”

Ja Here, ek is moeg probeer. Ek is moeg om sterk te wees. Ek is moeg om in beheer te probeer wees.

Ek gee opnuut weer oor…..Let go, let God !! Maak U die storms stil op U tyd en stuur die siele reen wat  verkwik en nuwe krag gee op U bestemde tyd!

 

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Heimwee

Een oggend baie vroeg was ek oppad na Oudtshoorn vir ‘n vergadering. Dit was nou “many moons ago”.Die pad is maar lank en vervelig en dus het ek besluit  om my seun saam te vat….vir geselskap, maar ook vir die bou aan die pa-seun band. Deesdae praat hulle van “bonding”

Nou…, oor wat gesels jy  met ‘n seun van 5 jaar oud ? Ditjies en datjies en visvang stories. Soos die son oor die kim begin loer en sy strale gooi daar teen die Langeberge ,en ets die berge so duidelik af teen die grou oggendlig in die verte, kom daar by my plotseling die gedagte op wat Koning Dawid so mooi saamgevat het in Psalm 121: Ek slaan my oe op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here  wat hemel en aarde gemaak het…..En daar begin my sedeprekie of lewensles wat ek my seun wou leer, gesig en spiere kry!!

  • as God vir my is, wie kan teen my wees
  • met my God loop ek ‘n bende storm
  • roep My in die dae van jou benoudheid
  • in my elende roep ek na die Here en Hy hoor my(Ps 34:7)
  • my naam is in Sy hand ingegraveer
  • nie hoogte, nie lengte, nie diepte kan my skei van Sy Liefde
  • Ek het jou by die naam geroep en jy is Myne

Ek wonder of my seun ooit daardie paar minute oppad Oudtshoorn-toe kan onthou? Ek onthou dit soos gister. As ek my oe toemaak, dan sien ek duidelik die asemrowende mooi berg-prentjie. Ja, ek het hom so stukkie van my lewensgeskiedenis vertel. So knetseltjie van die Here se genade wat so mildelik uitgestort is oor my lewenspad.

Ja waarlik, Hy moet baie lief wees vir my, want niks het ek verdien nie….net genade op genade!! En as ek so by die berge daar doer in die verte verby ry, dan onthou ek my seun se saamry!

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar